Hierdie week leer ons meer oor die begin van Jesus se bediening. ‘n Fariseër genaamd Nikodemus het Jesus besoek om antwoorde vir van sy vrae te kry (Johannes 3:1-21)

Sommige van die belangrikste punte waarna ons sal kyk is:

  • Geestelike lewe teenoor ons fisiese lewe
  • Om goeie dinge te doen is nie genoeg nie. Nikodemus het die Wet gehoorsaam, maar hy moes leer om op Jesus te vertrou.
  • God het die wêreld so liefgehad dat Hy Jesus vir ons gestuur het sodat ons die ewige lewe kan hê.

Lesgids:

Praat met jou kind oor vrae. Verduidelik dat sommige vrae makliker is om te antwoord as ander. Byvoorbeeld, wat ons vir aandete gaan eet is maklik om te antwoord, maar gesels ook oor hoekom sekere vrae moeiliker kan wees om te antwoord. Verduidelik dat Nikodemus groot vrae gehad het waarvoor hy antwoorde wou hê. Wys daarop dat Nikodemus na Jesus toe gegaan het om antwoorde op sy vrae te kry. Praat oor hoe ons na Jesus toe kan gaan om ons moeilike vrae te beantwoord. Verduidelik dat die antwoorde soms in die Bybel is, en ander kere moet ons vertrou dat net God die antwoord ken en dat Hy in beheer is.

Verduidelik dat Nikodemus deurmekaar was oor die verskil tussen geestelike dinge en fisiese dinge. Verduidelik dat geestelike dinge nie aangeraak kan word soos fisiese dinge nie. Wys daarop dat jou kind se hand aangeraak kan word, maar nie sy of haar siel nie. Jy kan voortgaan om te praat oor dinge wat ons kan sien en dinge wat ons nie kan sien nie. Vra jou kind om te identifiseer watter voorwerpe sigbaar en nie sigbaar is nie. Gee jou kind ‘n drukkie en wys daarop dat dit fisies is (ons kan dit sien en voel) maar verduidelik dat dit ook ‘n teken van liefde is (wat ons nie kan sien nie), die liefde wat jy vir hulle het.

As dit ‘n winderige dag is, kan julle buite toe gaan. Jy kan ook ‘n waaier of haardroeer gebruik. Vra jou kind of hulle die wind kan sien. Hulle kan nie. Vra jou kind of hulle kan sien wat die wind doen. Verduidelik dat ons kan. Verduidelik dat ons nie in staat is om Jesus te sien in iemand se siel nie, maar dat ons tekens kan raaksien dat Hy daar is deur wat hulle sê en wat hulle doen. Julle kan die vrugte van die gees lees in Galasiërs 5:22-23.

Verduidelik vir jou kind dat om net goeie dinge te doen, nie genoeg is nie. Ons moet op Jesus vertrou om ons siel skoon te maak. Praat oor hoe Jesus in die wêreld gekom het om ons siele te red,ons skoon te maak en vir ons die ewige lewe te gee, sodat die wat in Hom glo, nooit verlore sal gaan nie.

Kry ‘n waterkan (“jug”). Met jou kind se hulp, vul dit met vuil dinge soos ou koffie, teesakkies, oorskiet kos ens. Vul die kan dan met water en roer dit om ‘n vuil gemors te maak. Vra jou kind dan of die water lekker lyk om te drink. As jou kind baie jonk is, kan jy hulle help om te besef dat die watervul is en nie gesond en goed vir ons is om te drink nie. Verduidelik dat die water soos ons siele is sonder Christus – vuil en onrein. Neem nou ‘n lepel skoon water en voeg dit by die vuil water.  Vra jou kind of die lepel skoon water die vuil water skoon gemaak het, en of die vuil water die skoon lepel vuil gemaak het. Jy kan voortgaan om ‘n lepel vol skoon water by te voeg en elke keer te verduidelik dat dit nie die vuil water wegneem nie. Laat jou kind besef dat net soos die lepel vol skoon water nie die vuilwater kan skoonmaak nie, net so kan ons goeie optrede nie ons slegte optrede verwyder nie.

As jou kind oud genoeg is, vra hulle om jou te help om te dink hoe om die water in die waterkan skoon te maak. Jy kan hulle help besef dat hulle al die vuil water en stukkies eers moet uitgooi en dan die waterkan te was met seep. Laat jou kind toe om jou te help die waterkan was. Terwyl jy dit doen praat oor hoe Jesus die sonde in ons siele skoon maak en ons kom skoon was. Vul dan die waterkan met skoon water en wys daarop dat Jesus ons siele vul met Sy geregtigheid.

Gooi dan vir jou en jou kind elkeen ‘n glas water uit die skoon waterkan en praat oor hoe God ons so lief het, dat Hy Jesus, Sy Seun, gestuur het om ons skoon te kom was.

Bid en dank Jesus dat Hy in die wêreld ingekom het om sondaars te red.

Lesvoorskou

Gratis aflaai

Pin It on Pinterest

Share This